Agtergrond

Johannes Henoch (Jannie) Marais

1851–1915 · Diamantmagnaat, parlementslid en een van die grootste filantrope in Suid-Afrika.

Johannes Henoch (Jannie) Marais (1851–1915) was ’n diamantmagnaat, parlementslid en een van die grootste filantrope in Suid-Afrika. Hy is op Coetzenburg buite Stellenbosch gebore as die jongste van tien kinders en het sy opleiding aan die Stellenbosch Gymnasium ontvang. Reeds as jong man het hy ’n liefde vir masjinerie en praktiese werk getoon.

In 1870 het hy saam met sy broers na die diamantvelde aan die Vaalrivier vertrek, en kort daarna na Kimberley. Daar het hulle groot fortuin gemaak, veral deur belange in die Kimberley Central Mining Company en later De Beers Consolidated Mines.

Met sy terugkeer na Stellenbosch in 1892 het Marais Coetzenburg van sy moeder gekoop en hom op boerdery toegelê. Hy het ook ’n belangrike rol in die sakewêreld gespeel, onder meer by die Lion Distillery en die Stellenboschse Distriksbank.

Vanaf 1899 tot 1910 was hy ’n verkose lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering en ná Uniewording in 1910 het hy Volksraadslid gebly tot sy dood. Hy was bekend as ’n eerlike, praktiese en gerespekteerde parlementariër.

Marais se grootste nalatenskap lê in sy steun vir Afrikaans en die onderwys. Hy was ’n sleutelfiguur in die stigting van die Afrikaanse koerant Die Burger, en het onder andere borg gestaan vir die aankoop van ’n drukpers.

Die belangrikste daad was sy testamentêre bemaking van £100 000 – ’n enorme bedrag – om die stigting van die Universiteit Stellenbosch moontlik te maak.

As raadslid van Victoria Kollege het hy ruim skenkings gemaak, onder meer vir ’n fisika-gebou. Die belangrikste daad was sy testamentêre bemaking van £100 000 – ’n enorme bedrag – om die voortbestaan van Victoria Kollege te verseker en die stigting van die Universiteit Stellenbosch moontlik te maak. Hy het dit gekoppel aan die voorwaarde dat Afrikaans en Nederlands as gelykwaardige onderrigtale gehandhaaf word.

Nadat ruimskoots uit dié fonds geput is vir universitêre doeleindes, is die bestuur van die res van Het Jan Marais Fonds in ’n groter mate as in die verlede losgemaak van die Universiteit Stellenbosch. Dit word nogtans steeds hoofsaaklik vir projekte uit dié universiteit aangewend.

Marais en sy vrou Elizabeth was kinderloos, maar het geld nagelaat aan instellings soos die Instituut vir Dowes en Blindes en die Kindersendinghuis.

’n Verdere £100 000 uit sy boedel het gelei tot die oprigting van Het Jan Marais Nationale Fonds, wat tot vandag toe steun aan Afrikaanse gemeenskaps- en ander projekte in veral Stellenbosch en omgewing bied en onafhanklik is van die Universiteit Stellenbosch. Sy nalatenskap leef onder meer voort in die Jan Marais-natuurreservaat, ’n standbeeld op Stellenbosch, en die Jan H Marais-prys wat hoogstaande wetenskaplike werk in Afrikaans beloon. Hy word onthou as „Jan die Gewer” – ’n kampvegter vir Afrikaans en ’n weldoener van sy volk.

Uit die testament · 1915

De renten van tijd tot tijd uit de hoofdsom ontstaande zullen door de trustees worden aangewend en besteed ten behoeve van de inrichting in verband met het hoger onderwijs te Stellenbosch bestaande, en tans bekend als het Victoria College, of enige Universiteit (…) die later te Stellenbosch moge worden gevestigd (…) ter bevordering van het hoger onderwijs in het algemeen in gemeld College of Universiteit (…) als voorzegd naar het geval moge zijn doch meer biezonder van het onderwijs in en door middel van de hollandse taal in zijn beide vormen (dat wil zeggen Afrikaans zowel als Nederlands) en wel te dien einde dat in zodanige onderwijs de hollandse taal in zijn beide vormen als voormeld geen mindere plaats dan de andere officiele landstaal zal innemen.

In overeenstemming met gemelde bedoeling zullen de gemelde renten jaarliks aangewend worden:

a. ter betaling van het salaris of van enig gedeelte daarvan of van enige toevoeging daartoe van professoren en docenten
b. voor beurzen en geldelike hulp aan studenten op zodanige wijze verleend dat daardoor mijn bedoeling als hierin vervat het bes zal worden uitgevoerd
c. voor de aankoop van boeken
d. voor het houden van wetenschappelike voorlezingen ter bevordering van de hollands-afrikaanse nationale belangen
e. op zodanige andere of verdere wijze als de trustees van tjid tot tijd achten mogen het meest bevorderlik te zijn voor de doeleinden waarmede deze bemaking geschiedt.

In Afrikaans

Die testamentêre bepalings, vertolk

Die fondse moet deur die trustees aangewend word ter bevordering van hoër onderwys in die algemeen (wat in hedendaagse terme onderrig, navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid insluit) by die Universiteit Stellenbosch, maar meer spesifiek onderwys in en deur middel van Afrikaans / Nederlands, met die einddoel dat in sodanige onderwys Afrikaans nie ’n mindere plek as Engels inneem nie (die hoofdoelstelling).

In ooreenstemming met die genoemde bedoeling sal die Fonds aangewend word vir:

  1. die betaling van volle of gedeeltelike salarisse van dosente;
  2. beurse en geldelike hulp aan studente op sodanige wyse dat die hoofdoelstelling ten beste uitgevoer word;
  3. die aankoop van boeke;
  4. die aanbied van wetenskaplike lesings ter bevordering van Afrikaans se nasionale belang;
  5. op sodanige of ander manier(e) wat na die trustees se mening die doeleindes van dié bemaking die beste bevorder.

Vollediger inligting oor Jan H Marais is te vinde in:
Kapp, P. (2015). Nalatenskappe sonder einde: Die verhaal van Jannie Marais en die Marais-broers. Stellenbosch: Tip Africa Publishing. ISBN 978-0-620-65231-5.

Die nalatenskap duur voort

Doen aansoek om befondsing uit die Fonds

Na die aansoekblad